Norm Johnson Photography

Dienste / Produkte:

Sportfotografie • Natuurfotografie • Persoonfotografie • Geleentheidfotografie • Troufotografie • Korporatiewe fotografie • Ateljeefotografie

Meer oor Norm Johnson Photography

ONTMOET NORM JOHNSON PHOTOGRAPHY

By Norm Johnson Photography gaan alles oor jóú en jou storie. Ek is’n storieverteller, en ek vertel stories deur fotografie. Mense lê my baie ná aan die hart, en dis vir my ’n groot voorreg om daardie kosbare, egte oomblikke se hartklop te kan vaslê sodat dit vir altyd onthou kan word.

Ek onthou nog soos gister toe ek op 8-jarige ouderdom my eerste kamera as geskenk gekry het – ek was oorstelp van opgewondenheid! Daardie dag het ek geweet dat my hartsbegeerte is om eendag ’n fotograaf te wees. Vandag is ek ’n trotse oupa van ses kleinkinders, en die passie om mense deur fotografie te bereik, is  groter as ooit tevore.

Wanneer ek agter die kamera is, is my fokus altyd op die mens. Dis vir my belangrik dat mense rustig en op hul gemak voel en vrede ervaar. Ek probeer altyd die ware mens, met al sy of haar uniekheid en skoonheid, op ’n deernisvolle manier vasvang – dis vir my die hart van elke goeie foto.

Met jare se ervaring in sportfotografie, veral deur my betrokkenheid by S4J, het Norm Johnson Photography ontstaan as ’n besigheid wat graag deur fotografie wil dien. Om rou, ware oomblikke op ’n mooi manier vas te vang – en daardeur op ’n diep vlak met mense te kan konnekteer – is vir my ’n voorreg en dra dit ewigheidswaarde.

Die mens en die hart agter Norm Johnson Photography

Die storie van hoe Norm Johnson Photography begin het, is op sigself ’n spesiale storie. Ek het in 2010 aan die Comrades-marathon deelgeneem en, saam met ’n groep atlete wat dieselfde passie vir sendingwerk gedeel het, het ons S4J (Sudan for Jesus) begin – ’n bediening wat help om hoop en ondersteuning na van die mees onbereikte mense van Soedan en Suid-Soedan te bring. Projekte sluit onder andere oogoperasies, boorgate, kinder- en onderwysprojekte in. Ons leuse is: Changing lives, changing nations, en ons sien daagliks hoe God dit waar maak. S4J bou brûe tussen verskillende rasse en kulture ook hier in Suid-Afrika, en ons streef daarna om die Here se hart sigbaar te maak. Deur ons Barika Coffee-projek verkoop ons koffie wat projekte in Soedan en Suid-Soedan help befonds – so raak ons mense se lewens aan en sien hoe verandering regtig moontlik is.

In 2011 het ons weer beplan om aan die Comrades deel te neem, maar weens ’n besering kon ek nie hardloop nie. Die groep het my toe gevra om foto’s van die geleentheid te neem. Soos hulle sê, die res is geskiedenis! Ek het ’n paar foto’s op Flickr begin oplaai, en vandag, net ’n paar jaar later, is ek dankbaar om te sê dat daardie profiel al oor 8 miljoen kyke gekry het.

Die Koninkryksimpak van Norm Johnson Photography

Norm Johnson Photography is meer as net ’n besigheid – dis ’n tentmakerbediening. Dit gee my die geleentheid om aktief betrokke te bly by projekte in Soedan en Suid-Soedan en om ’n verskil te maak vir God se Koninkryk. In ’n wêreld wat soms baie donker is, wil ek hê dat mense deur my werk iets van die Here se Lig sal sien.

Hierdie fotografie-besigheid is ook vir my ’n vorm van dissipelskap. Ek glo dat ons deur elke aspek van besigheid – ook kuns en fotografie – ’n verantwoordelikheid het om anders te wees. Stap vir stap kan ons mense nader aan Jesus bring, en deur dít wat ons doen, ‘n verskil vir die Koninkryk maak.

REGISTREER OF TEKEN AAN OM DIE PROFIEL TE SIEN.

Scroll to Top