GP4ieJimnyTours
Dienste / Produkte:
Meer oor GP4ieJimnyTours
ONS STEL GP4IEJIMNYTOURS BEKEND
Suid-Afrika is pragmooi. Dit bevat iets van elke kontinent, saamgeweef in ‘n land wat ons dankbaar en trots kan wees om “huis” te noem. Van wit strande, dorre woestyne, groot stede en mielielanderye, tot wynlandgoedere, berge, goeie weer, plantegroei en natuurlewe waarvan baie mense net kan droom om te beleef. Hierdie is Suid-Afrika: kosbaar en wonderskoon.
Ons stel GP4ieJimnyTours bekend, jou vennoot in landswye 4×4-toere. Ons neem mense in konvooivorm op toere om Suid-Afrika te verken, alles met die gerieflikheid van jou eie voertuig. Van dagwegbreke vir mense wat oor ‘n naweek uit die stad wil kom, tot toere oor die land om van die mooiste besienswaardighede te beleef wat Suid-Afrika bied – ons is daar vir elke oomblik van die pad: van beplanning tot toerbegeleiding. Daar mag verskeie redes wees hoekom jy nog nie deur die land gereis het nie; dalk die onsekerheid van waar om te begin, wat die beste roete is vir jou voertuig se vermoë, moontlik die huiwering oor die veiligheid in die land, of dalk het jy net nog nie tyd gemaak nie. Ons neem elke aspek van ‘n heerlike en veilige toer in ag om seker te maak jy het ‘n reis vol hoogtepunte wat jy altyd sal onthou. Deur ons roetebeplanning maak ons ook voorsiening vir 2×4-en sagtebakvoertuie. Ons beplan die paaie, akkommodasie, besienswaardighede en alternatiewe roetes vir beide ons begeleide toere, asook wanneer jy besluit om die land self in jou eie voertuig te gaan verken. Jy is daagliks op die pad slegs tot middagete, wat vir jou en jou passasiers ‘n vrye middag gee vir verkenning en om eerstehands te beleef wat Suid-Afrika bied. Deur ons opsionele foto-en videopakkette kan jy na afloop van die toer, weer die opwinding en skoonheid beleef.
Kontak ons om die toer van ‘n leeftyd te beplan. Ons haal die risikofaktor uit, sodat jy dit net kan geniet en ontspan.
Die mens en die hart van GP4ieJimnyTours
GP4ieJmnyTours kom uit die hart van Gert Fourie, ‘n afgetrede polisieman en kriminilastiekdeskundige met ‘n liefde vir die land, 4×4-toere, mense en die natuur. Deur GP4ieJimnyTours kombineer Gert hierdie passie om mense toe te rus en te begelei om onvergeetlike reise te onderneem met veiligheid as een van die belangrikste faktore. Gert se pa en broer is destyds in ‘n plaasaanval vermoor. Hierdie ervaring, saam met sy agtergrond in die polisie, het vir Gert ‘n geleentheid laat raaksien om ook mense op plase te beskerm deur akkommodasiegeleenthede op die plase te skep waar konvooie kan oornag. Hierdie help ook boere om ‘n addisionele inkomstestroom te genereer vir wanneer dit moeiliker gaan in uitdagende seisoene.
Hierdie is die hart van GP4ieJimnyTours: om mense te bereik deur toere, geleentheid te skep vir mense om die skoonheid van ons land en ook verder te gaan verken, en om mense op afgeleë areas te help en ook daar die gevoel van gemeenskap te skep.
Die Koninkryksimpak van GP4ieJimnyTours
Ons Koninkryksimpak is om God se Woord deur ons besigheid te versprei en mense te bereik. Soms is dit net nodig om met mense te gesels. Ons glo in interaktiewe evangelisasie en weet ons moet dag en nag reg wees. Ons toere gee vir mense die geleentheid om weer in die natuur te kom; mense leef dwarsoor die skepping, waar dit eintlik besonderse manier is om weer by die Here uit te kom, stil te raak, en Sy Stem te hoor. Daar is soveel mooi in die wêreld wat mense kan beleef, ver weg van die gejaag en geraas. Ons wil hierdie vir mense moontlik maak en hulle sodoende weer by die Here uitbring.
Ps. 121 v 1 – 2: Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die Here wat hemel en aarde gemaak het.