Trained by Leigh

Dienste / Produkte:

Biokinetikus • Voedingskundige • Persoonlike afrigter

Meer oor Trained by Leigh

Kom ontmoet vir Trained By Leigh

Ek is Leigh-Mari Niemand, ’n biokinetikus, voedingskundige en persoonlike afrigter. Ek bied biokinetika, voedingsleiding, persoonlike oefening beide in persoon en aanlyn aan.

Ek was nog altyd baie sportief en het deelgeneem in sportsoorte soos hokkie, krieket, sagtebal en gewigstoot. Aanvanklik het ek gedink ek gaan ’n heel ander rigting inslaan en was van plan om besigheid te gaan swot. Maar baie vinnig het ek besef dat die korporatiewe wêreld nie vir my bedoel is nie. Ek het MBW gaan studeer en daarna is ek gekeur vir my Honneurs in Biokinetika. Vandag kan ek eerlik sê ek sou niks anders wou doen nie.

Vir my is elke sessie basies soos ’n koffie-afspraak met iemand. Ek wil by die mens uitkom, nie net by die oefening nie. Deur beweging leer mense dikwels weer baie oor hulself en oor waartoe hulle fisies in staat is. Ek werk met mense uit verskillende agtergronde en met verskillende doelwitte, maar het steeds een doel voor oë: om hulle optimaal laat funsioneer, beide liggaamlik en as mens.

Vir iemand wat rehabiliteer, gaan dit dikwels daaroor om weer net normaal te kan funksioneer in hul gewone dag. Vir ander gaan dit daaroor om sterker terug te kom en seker te maak hulle doen wat hulle kan om nie weer seer te kry nie. Die liggaam is wonderlik geskape en dit is my passie om dit met mense te kan deel en hulle te kan help. My doel is dat mense ná ’n sessie nie net fisies beter voel nie, maar sommer ’n bietjie ligter uitstap.

Ek wil hê mense moet ontdek: Ek kan dit doen. Ek is sterker as wat ek gedink het. Ek mag in myself glo.


Die mens & hart agter Trained By Leigh

Ek glo werklik in die slagspreuk wat sê: ’n gesonde liggaam huisves ‘n gesonde gees. Vir my gaan my werk oor baie meer as net die fisiese liggaam. Wanneer ons begin om ons liggame te versorg en gereeld te beweeg, bring dit dikwels ook dissipline en struktuur in ander areas van ons lewens. Dit bou veerkragtigheid en help ons om sterker te staan wanneer die lewe uitdagend raak.

Ek wil hê mense moet besef dat hulle ook vir hulself mag sorg. Jy mag tyd maak om te oefen, jou kop skoon te kry en weer energie te kry sodat jy daarna weer vir ander kan gee wanneer jou koppie vol is.

Met voeding wil ek mense help om kos beter te verstaan, sonder dat kos ’n straf word of dat hulle heeltyd skuldig moet voel oor wat hulle eet. Dit gaan vir my oor kennis, balans en om mense toe te rus om beter keuses te maak.

Maar bo alles hou ek van mense. Ek glo die Here het my geplaas waar ek is en vir my ’n spesifieke talent gegee. Ek verstaan die liggaam, ek kan uitdagings raaksien en ek kan help om oplossings te vind sodat iemand weer vorentoe kan beweeg.

Dit is vir my ’n voorreg om deel te wees van iemand se reis; nie net om hulle fisies sterker te maak nie, maar om hulle te help om weer in hulself te glo en die lewe met selfvertroue aan te pak.


Die Koninkryksimpak van 
Trained By Leigh

Vir my begin Koninkryksimpak by hoe ek mense behandel. Ek wil hê mense moet voel dat hulle by my kan kom soos hulle is, sonder oordeel. Ek wil hulle met onvoorwaardelike liefde ontmoet en vir hulle ’n veilige plek bied waar hulle nie altyd sterk hoef te wees nie. Soms het ’n mens net iemand nodig wat luister. Iemand by wie jy kan ontlaai. Iemand wat jou nie probeer oordeel of dadelik alles probeer regmaak nie.

Ek glo ek kry ook geleenthede om vir mense te bid en om Jesus se Lig op ’n praktiese manier aan hulle te wys. Wanneer mense met my kommunikeer of by my oefen, wil ek hê hulle moet iets van Jesus se liefde en lig ervaar, deur die manier waarop ek hulle behandel, na hulle luister en hulle aanvaar.

Vir my is gesondheid daarom nie net ’n sterk liggaam nie. Dit gaan oor die hele mens: liggaam, siel en gees. As iemand ná ’n sessie nie net fisies sterker voel nie, maar ook meer hoop het, meer selfvertroue het en weer glo dat hulle dit kan doen, weet ek dat daar ’n impak was wat verder strek as net oefening. Dit is die soort Koninkryksimpak waarvan ek deel wil wees.

REGISTREER OF TEKEN AAN OM DIE PROFIEL TE SIEN.

Scroll to Top