JF Consulting
- https://www.jfconsulting.co.za/
- +27 (0)83 597 7761
- kobus@jfconsulting.co.za
- https://wa.me/27835977761
Dienste / Produkte:
Meer oor JF Consulting
Ontmoet JF Consulting
Ek is Kobus Fourie van JF Consulting. As bedryf-en organisasiesielkundige bied ek ‘n verskeidenheid van dienste aan: van psigometriese evaluering, berading en “destressing” van groepe, tot werwing, opleiding, beroepsleiding en organisasieverandering en ontwikkeling.
‘n Persoon spandeer ‘n groot deel van hul dag in ‘n werksomgewing. Dit is krities vir elke besigheid om ‘n gesonde ruimte te wees wat groei bevorder en waar daar belê word in die individu se ontwikkeling. ‘n Besigheid met ‘n gesonde kultuur is meer winsgewend: werknemers wys hoër produktiwiteit, is minder afwesig en siek as gevolg van minder stres, daar is beter spanwerk en kommunikasie, kliëntetevredenheid neem toe, en só ‘n besigheid het ‘n laer personeelomset. Om hierdie te bereik is dit nodig om met ‘n kundige te werk wat jou besigheid kan lei om dit te realiseer, en dit is presies waar JF Consulting se omvattende dienste inkom.
Vir skoliere en studente help ek ook graag met hulle keuses vir die toekoms deur beroepsleiding, vakkeuses, en psigometriese evaluering . Hierdie is uiters waardevol vir leerders, omdat dit hulle help om ingeligte, doelgerigte besluite te neem oor hul toekoms. Ek help jongmense om hul belangstellings, vaardighede, persoonlikheid en waardes te ontdek, en dit te koppel aan moontlike beroepe. Wanneer ‘n leerder weet waarheen hulle op pad is, is hulle meer gemotiveerd, gefokus en toegewyd aan hul studies. Sonder goeie leiding kies baie studente verkeerd en verander later rigting – dit kos tyd en geld. Ek help hulle voorberei vir die werksplek, ontwikkel besluitnemingsvaardighede en maak hulle bewus van nuwe geleenthede waarvan hulle dalk nie bewus was nie.
Die hart agter JF Consulting
Ek is ‘n mens-mens. My passie lê in die ontwikkeling van mense en ek help die persoon om die beste te wees wie hulle kan wees. Dit is vir my belangrik om saam met ‘n persoon hul potensiaal te ontdek en te benut. In ander fasette van my werk is dit ook kosbaar om deur berading mense by te kan staan deur moeilike tye en trauma. Ek het die voorreg gehad om te kon sien hoe die Here geleenthede vir my gegee het en kragtig daardeur gewerk het om ‘n verskil te maak in moeilike omstandighede.
Deur my jare as industriële-en organisasiesielkundige sedert 2011 het ek waardevolle lesse geleer wat ek graag met besigheidseienaars deel: sorg altyd dat die kultuur in jou besigheid gesond is – veral kleiner besighede. Die bestuur moet leef wat hulle preek. Gee ook vir jou werknemers meer geleentheid en vrye teuels om kreatief en krities te kan dink; luister na hulle, jy sal dalk baie verras wees oor die idees en kreatiwiteit wat na vore kom en kan dalk juis wees wat jou besigheid nodig het. En laastens: ontwikkel jou mense en belê in hulle.
Die Koninkryksimpak van JF Consulting
Wanneer die geleentheid dit voordoen, fokus ek om gesprekke aan te knoop wat mense nader aan Jesus kan bring. Daar is twee stelle oplossings, die wêreld s’n of die Christelike manier. Die wêreld fokus op die “eie ek”, waar mense gebruik kan word vir wins. Die Christelike stelsel vra, hoe kan ek mense ontwikkel en laat groei? Ek gebruik ook geleenthede om die Here se Lig in moeilike omstandighede in te bring – ek het onlangs traumaberading gedoen by ‘n firma ná ‘n uiters moeilike situasie en kon daar weer sien watter voorreg dit is om mense op hierdie manier te kan dien en ‘n verskil te maak.